|
Apr 12
2010
|
Geliewe mede Suid Afrikaners, ek skryf aan julle namens myself, my vrou en ongebore kind. Ek is nie 'n skrywer , politikus, filosoof of man met baie geld nie. Maar ek het iets om te sê.
Die afgelope tyd het ons spanning en vrees ervaar wat ons laat terug dink het aan voor die eerste demokratiese verkiesing. Ons leiers sing liedjies dat hulle ons wil doodskiet, mense word vermoor en daar word gepraat van wraak neem en oorlog.
Die gebeure maak my vreesvol en gespanne, maar meer as enigiets anders maak dit my hartseer.
Ek is teleurgesteld in ons nasie en in myself ook. Die moord op ET en gesingery van Melema en kie het wragtig die slegste in ons uitgebring as Suid Afrikaners. Ek kon nie glo toe ek sien hoe wit en swart mekaar takel by ET se moord verhoor nie. Ek verstaan nie dat daar mense staan met 'n Bybel in die een hand en met die ander hand 'n vuis bal nie. Julle preek en bid, maar met dieselfde mond verklaar julle oorlog en praat oor wraak!
Moordenaars word as helde toegejuig terwyl kinders saam met hul ouers staan en mense bobejane noem. Ons tv bekendes en kunstenaars raak ook betrokke deur die "K" woord op die verhoog te sê en die regering aan te val.
En dan wonder ons hoekom leef ons so in vrees en haat, hoekom loop dinge so moeilik, hoekom is daar moord en hierdie rasse spanning? Hoekom? Die rede is dat ons nog NOOIT deel was van die nuwe Suid Afrika nie. Ons lewe met hierdie idee dat ons een nasie is ens. maar by die huis en tussen vriende praat ons net negatief oor ander rasse en ander kulture. Ek is teleurgesteld in myself dat ek die afgelope tyd eers besef het dat ek 'n verskil kan maak in die land se toekoms.
Die gebeure die afgelope tyd het gebeur vir 'n rede. Nie om oorlog te maak nie of om wraak te neem nie, ook nie om die regering aan te val nie. Dit het gebeur (dit mag snaaks klink) om ons nader aan mekaar te bring. Ons moet weereens besef hoe belangrik dit is om ons naaste (jou buurman, plaaswerker, petroljoggie ens.) lief te hê en te respekteer soos ons wil hê ander moet ons hanteer en respekteer. Sonder respek en liefde gaan hierdie land nie voortbestaan nie. Dit klink soos een groot "cliche", maar dink so daaroor... wat sou die gevolg wees as by ET se moordverhoor wit en swart mekaar met respek behandel het? Wat sou gebeur het as een van die AWB leiers sy hand uitgesteek het, die swart mense gegroet het en hulle gevra het om saam met hulle nie ET toe te juig nie, nie die moordenaars toe te juig nie, maar om almal saam te bid vir ons land? Wat sou gebeur het as hulle besluit het dat wit en swart saam ons lands lied sou sing? Ons sou die wêreld aanraak, mense sou na ons land toe stroom om hierdie wonderlike nasie te beleef, dit sou die hele land inspireer het!!
Hoekom sien ons altyd alles as 'n rede om te baklei en eerder as om vrede te maak nie?
Ek vra dus vir Suid Afrika om nou te begin om 'n nuwe Suid Afrika te skep, begin by jou huis deur jou kinders reg te leer, begin jou buurman groet en begin mense aanvaar soos hulle is. Hanteer almal met respek en probeer die beter een wees. Die beste en enigste manier om ander te beiinvloed is en was nog altyd gewees om 'n voorbeeld te stel. Dws ons kan nie kyk na ons leiers of politici om ons die weg te wys nie, ook nie na die media sterre of "heroes" nie. Ons moet self begin om die held (hero) te wees vir ander, vir jou kinders, jou vrou en jou medemens. Gebruik elke situasie om vrede en liefde te promofeer, moet nie dat ons geleenthede mis nie.
Ek is jammer Suid Afrika dat ek so laat begin het om 'n beter landsburger te wees, moet dit nie teen my hou nie, maar ek vra dat julle my sal help deur ook nou te begin julle land te dien. Ons is Suid Afrika, nie die ANC, AWB of ander partye nie. Moet nie toelaat dat 'n party jou bind nie, moet nie beiinvloed word deur hul opsweepery of propaganda nie, jy is jou eie mens en jy weet wat reg is. Gee liefde en jy sal liefde ontvang. Komaan mense, asseblief, maak my trots op julle. Kom ons wys die wêreld watter pragtige mense ons is en hoe ons 'n nuwe Suid Afrika bou vir ons kinders. Ek gaan nou in my bakkie klim en vol diesel maak, en as ek by die petrolstasie kom gaan ek my BESTE probeer om die persoon wat my help te laat lag! Net omdat ek kan. Onthou ons is die uitverkore volk, kom ons gedra onsself so, ek is lief vir julle almal!!